Prins Harry, Elton John verloor saak teen poniekoerant
Prins Harry en Elton John het Dinsdag hul saak teen die uitgewer van die Daily Mail oor beweerde onwettige inligtingsinsameling verloor, luidens ʼn uitspraak deur die hooggeregshof in Londen.
ʼn Skriftelike uitspraak wat ná ʼn verhoor van 11 weke vroeër vanjaar gepubliseer is, lui dat die “eisers nie daarin geslaag het om hul aangevoerde bewerings te bewys nie … die eise word dus van die hand gewys”.
Associated Newspapers het regter Matthew Nicklin se uitspraak verwelkom en dit as ʼn “oorweldigende oorwinning” en ʼn “skitterende regverdiging van die Daily Mail se joernalistiek” beskryf.
Die maatskappy het gesê die hof se verwerping van “elke enkele een van die 97 bewerings wat deur die eisers gemaak is” wys die regter het “die eerlikheid van ons joernaliste se getuienis oor hoe hulle hul stories bekom het, aanvaar”.
Bewerings dat afluistertoestelle in mense se motors en huise geplaas is, oproepe afgeluister is en bankrekeninge onwettig bekom is, was “vol sensasie” en “belaglik”, met “geen geloofwaardige bewyse wat ooit voorgelê is nie”, het Associated in ʼn verklaring gesê.
“Die reputasies van ons ordentlike en hardwerkende joernaliste is ernstig beswadder, en vandag is hulle vrygespreek,” het die maatskappy bygevoeg.
Die prins het emosionele getuienis tydens die verrigtinge gelewer. Verskeie hoëprofielpersone, onder wie John en die aktrise Elizabeth Hurley, het die poniekoerantuitgewer daarvan beskuldig dat hy hul privaatheid geskend het.
Harry se prokureurs het gesê hulle eis “aansienlike” skadevergoeding namens hul kliënte oor artikels wat tussen 1993 en 2018 gepubliseer is.
Dit was die derde en laaste saak wat die hertog van Sussex in sy bitter regstryd met Britse poniekoerante aanhangig gemaak het. Dié stryd het sy verhouding met die koninklike familie verder onder druk geplaas.
“Teleurstellend”
Harry (41), koning Charles III se jongste seun, was ook in ander regsgedinge betrokke, onder meer oor sy polisiebeskerming in Brittanje ná sy dramatiese onttrekking aan voorste koninklike pligte ses jaar gelede.
Die prins, wat nou in Kalifornië woon, het Maandag in Brittanje aangekom vir ʼn vyf dae lange besoek wat na verwagting grootliks sonder sy vrou en kinders sal voortgaan nadat die gesin polisiebeskerming geweier is.
Die besoek, ter viering van die aftelling van een jaar tot volgende jaar se Invictus-spele vir gewonde veterane wat Harry gestig het, was bedoel om sy eerste gesinsbesoek aan die VK in vier jaar te wees.
ʼn Bron na aan die hertog van Sussex het egter aan AFP gesê Harry se vrou, Meghan, sy seun, Archie, en dogter, Lilibet, sal hom nie op die Londense been van die besoek vergesel nie nadat die gesin sekuriteit geweier is.
Reëlings vir die res van die besoek was steeds onder oorweging, het die bron gesê. Dit was dus onduidelik of die hele gesin wel sou reis, maar buite die hoofstad sou bly.
Teenstrydige verklarings oor planne om tydens die besoek in Buckingham-paleis te bly, het tot die prins se hoofbrekens bygedra.
Kort voor Harry se aankoms het Buckingham-paleis die hertog se span weerspreek en gesê hy sal nie in die paleis tuisgaan nie nadat hy ʼn sperdatum misgeloop het om die verblyfaanbod te aanvaar.
Harry se woordvoerder het in ʼn verklaring aan AFP gesê dit is “teleurstellend” dat die aanbod om deur sy pa gehuisves te word, “op die laaste oomblik teruggetrek is”.
Veiligheidsprobleme
Dit was onduidelik of die prins sy pa tydens die besoek sou ontmoet. Daar word verstaan dat hy Charles, wat vir ʼn onbekende vorm van kanker behandel word, laas in September 2025 by die monarg se Londense woning, Clarence House, ontmoet het.
Harry en Meghan het Brittanje in 2020 te midde van ʼn bitter familietwis na Noord-Amerika verlaat. Die twis het vererger nadat Harry sy memoires, Spare, gepubliseer het.
Die prins het sedertdien gesê hy wil graag met sy pa versoen raak.
Volgens sy woordvoerder moes Harry “alternatiewe sekuriteitsreëlings” vir die besoek tref nadat staatsgefinansierde beskerming geweier is. Dit het bygedra tot die vertraging om Buckingham-paleis se verblyfaanbod te aanvaar.
Harry het verlede jaar gesê hy voel nie hy kan sy gesin na Brittanje bring nie nadat hy ʼn hofsaak verloor het om sy sekuriteit tydens besoeke aan sy geboorteland te herstel.
Harry blameer die media al lank vir die dood van sy ma, prinses Diana, wat in 1997 in ʼn motorongeluk in Parys dood is terwyl sy die paparazzi probeer ontduik het.
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.