NSFAS se administrateur moet dringend verantwoording doen
Solidariteit Helpende Hand eis dat die aanstelling van prof. Hlengani Mathebula as administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) dringend heroorweeg word te midde van vrae oor die instelling se finansiële prioriteite en korporatiewe bestuur.
Die organisasie dring ook daarop aan dat wesenlike besluite wat tydens Mathebula se termyn geneem is, waaronder die aanstelling van Bojane Segooa om NSFAS se oudit- en risikokomitee te lei, onafhanklik hersien moet word.
Dit kom nadat ʼn mediese student se NSFAS-befondsing, wat aanvanklik goedgekeur is, sowat twee maande gelede teruggetrek is.
Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, sê die jongste gebeure laat ernstige vrae ontstaan oor NSFAS se prioriteite, goeie korporatiewe bestuur en die aanwending van openbare geld.
Segooa, wat glo deur Mathebula aangestel is, is die onderwerp van ʼn hangende ondersoek na die omstandighede rondom ʼn betaling van R624 843,51 wat sy tydens haar termyn as voorsitter van Daybreak Foods ontvang het. Sy ontken dat die betaling onreëlmatig was.
“Die vraag is of Segooa met ʼn hangende ondersoek teen haar werklik die beste kandidaat vir so ʼn kardinale posisie is,” sê Noëth.
Lees hier: Oudvoorsitter van Daybreak nou by NSFAS
Noëth het die aanstelling met die situasie van ʼn student wat tans vir ʼn MB ChB-graad aan ʼn Suid-Afrikaanse universiteit studeer, vergelyk.
“Aan die een kant word ʼn mediese student, wat tans vir ʼn MB ChB-graad aan ʼn Suid-Afrikaanse universiteit studeer en uiteindelik ʼn dokter kan word wat lewens red, se NSFAS-befondsing teruggetrek, nadat dit aanvanklik goedgekeur is. Aan die ander kant word ʼn pos met wesenlike finansiële implikasies gevul.”
Volgens Noëth het die student reeds ʼn voorgraadse kwalifikasie met uitstekende akademiese prestasie voltooi om aan die toelatingsvereistes vir mediese studies te voldoen. NSFAS was volgens hom bewus van dié kwalifikasie toe befondsing vir klasgeld en verblyf aanvanklik goedgekeur is.
Die befondsing is egter later teruggetrek.
Die student kon met behulp van ʼn rentevrye lening uit die Helpende Hand Studietrust se mediese studiefonds met die studie voortgaan.
Helpende Hand sê die voorval laat vrae ontstaan oor hoeveel ander studente wat nie toegang tot soortgelyke finansiële ondersteuning het nie, hul studies weens sulke besluite moet staak.
Noëth sê NSFAS voer voortdurend aan dat die instelling onder groot finansiële druk verkeer en geld probeer bespaar, terwyl besluite soos Segooa se aanstelling volgens Helpende Hand terselfdertyd vrae oor bestuur, risiko en finansiële verantwoordelikheid laat ontstaan.
“Dit is juis dié soort finansiële en bestuursrisiko’s wat ʼn oudit- en risikokomitee behoort te identifiseer en te bestuur,” sê hy.
Mathebula se eie aanstelling is intussen ook die onderwerp van ʼn geregtelike hersiening wat in Augustus in die hooggeregshof aangehoor sal word.
“ʼn Administrateur se kernverantwoordelikheid behoort te wees om goeie korporatiewe bestuur te herstel en vertroue in ʼn instelling te herbou.”
Helpende Hand het die regering gevolglik versoek om Mathebula se aanstelling dringend te heroorweeg en ʼn nuwe administrateur aan te stel. Die organisasie wil daarna ʼn onafhanklike hersiening sien van alle wesenlike besluite wat tydens Mathebula se termyn geneem is, insluitend Segooa se aanstelling.
Volgens Helpende Hand is dit onaanvaarbaar dat ʼn mediese student se beurs teruggetrek word, nadat dit aanvanklik goedgekeur is, terwyl besluite wat openbare geld en NSFAS se bestuur raak volgens die organisasie sonder voldoende omsigtigheid geneem word.
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.