Redaksie se keuse
As jy dalk sommige nuusgebeure misgeloop het, vind jy hier ʼn uitgesoekte versameling van Maroela Media se berigte wat deur die week gepubliseer is.
Lesufi gedagvaar ná destydse rasopmerkings by skool
Rocco Oosthuizen, wat vier jaar gelede tydens ʼn oproer by die Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein van rassisme beskuldig is, dagvaar Panyaza Lesufi, nou Gautengse premier, vir skadevergoeding van R750 000.
Lesufi, destyds die LUR vir onderwys, het by die skool opgedaag en verskeie opmerkings oor die Oosthuizen-gesin gemaak. Hy het gedreig om toe te sien dat die MRK hul “rassistiese optrede” ondersoek. Dit is op video opgeneem en regstreeks deur verskeie media-instellings uitgesaai. Lees die volledige berig hier en al die ander berigte oor die destydse oproer hier.
Brandstof | Situasie op grondvlak al meer benoud
Die Suid-Afrikaanse brandstofbedryf – en duisende gewone motoriste – is in rep en roer oor skerp prysstygings, berigte van dieseltekorte en bewerings van “onetiese” sakepraktyke by vulstasies landwyd.
Lees ook: Brandstofheffings: die probleem is politieke wil, nie geld nie
Terwyl verbruikers desperaat probeer om hul tenks vol te maak voor Woensdag se amptelike prysverandering – met nog ʼn skerp styging in die vooruitsig – lyk dit asof die reëls van die spel oornag verander het. Lees hier.
Sanral wil nou besluit wie langs die pad mag sake doen
Eienaars en operateurs van ondernemings langs Suid-Afrika se hoofpaaie is woedend oor voorgestelde wysigings aan die beleid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) vir rus- en diensfasiliteite langs nasionale paaie.
Hulle voer aan dat Sanral sy mandaat oorskry deur te probeer bepaal watter soort ondernemings bedryf mag word, sowel as waar, hoe ver uitmekaar en ook die profiel van die mense wat die onderneming bestuur – en dit op private grond. Lees hier.
Bek-en-klouseer woed voort
Die hooggeregshof in Pretoria het nie ʼn dringende tussentydse interik – wat die staat verbied om private persone te verhinder om self entstof teen bek-en-klouseer toe te dien – toegestaan nie. Die hof het wél streng tydlyne neergelê om die departement van landbou toe te laat om sy inentingskema te finaliseer en behoorlik af te kondig. Lees hier sommige van die jongste verwikkelinge:
- Streng sperdatums vir BKS-inentingsplan verwelkom
- Steenhuisen verwelkom Sahpra se ingryping
- BKS-inentingsplan | Veeartse verwerp private registrasie
- RMIS waarsku veeartse se stappe kan BKS-inentings vertraag
Lees ook: Plaasmoorde | Byna 300 mense in vyf jaar vermoor
Net nog enetjie | Die son sak oor Alles-ras
Ras en raswette bly een van Suid-Afrika se mees hardnekkige vraagstukke. Vir jare het dit gelyk of hierdie beleid doodeenvoudig tot in der ewigheid sou voortduur. Tog begin daar uiteindelik al hoe meer tekens na vore kom dat die gety dalk besig is om te draai. Is die son dalk besig om te sak oor die beheptheid met alles-ras in Suid-Afrika? Gesels saam met Connie Mulder, Nico Strydom en Christel Cornelissen.
AfriForum versus Fikile Mbalula
AfriForum het Woensdag ʼn omvattende verslag, bekend as die Mbalula-dossier, bekend gestel waarin verskeie bewerings van bedrog, geldwassery en korrupsie teen Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, uiteengesit word.
Die verslag beskryf ook hoe Mbalula volgens AfriForum Suid-Afrika roekeloos blootstel aan moontlike Amerikaanse strafmaatreëls deur onder meer sy uitdagende en beledigende uitsprake teen Westerse lande, sy steun vir onteiening sonder vergoeding en sy skakeling met die groep Hamas.
Mbalula het voor die bekendstelling met regstappe gedreig om die beplande mediakonferensie te verhoed.
Lees ook: Mbalula dreig AfriForum met hofaksie oor dossier
Die ANC het dit daarna ook as ’n politieke aanval bestempel.
Wêreldwys | Iewers gaan Trump die streep trek
Gaan die VSA sy sin kry, of gaan Iran sy sin kry? Jaco Kleynhans verduidelik wat ons weet – en wat ons nie weet nie – oor die konflik in die Midde-Ooste.
Reserwebank hou rentekoers onveranderd
Die Reserwebank se jongste projeksies dui op ʼn langer tydperk van onveranderde rentekoerse, wat die voorheen verwagte verslappingsiklus vertraag het. Lees hier.
Lees ook: Onveranderende rentekoers ‘verstandig’
Meta en YouTube aanspreeklik vir sosialemediaverslawing
Funksies soos eindelose blaai, video’s wat outomaties speel, kennisgewings en “likes” is doelbewus ontwerp om kompulsiewe gebruik onder jongmense aan te moedig.
Nou het ʼn jurie in Los Angeles bevind dat Meta en YouTube aanspreeklik is vir die skade wat ’n jong vrou gely het weens die verslawende ontwerp van hul sosialemediaplatforms. Die maatskappye is gelas om meer as R111 miljoen in skadevergoeding te betaal. Lees die volledige berig hier.
Bokkaptein, Wêreldbekerwenner en nou UJ-eredoktor
Francois Pienaar het al met trots die kapteinskaptrui van die Goue Leeus en die Springbokke gedra, terwyl hy sekerlik in ʼn netjiese pak vir sy raadsaalpligte as uitvoerende hoof van Saracens-rugbyklub én die medestigter van die gewilde Varsitybeker-reeks was.
Maar Woensdag – daar by die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Sanlam-ouditorium – was die 59-jarige Pienaar geklee in sy groen-en-goud-baadjie. Dié keer was ʼn toga, ’n kappie en ’n graadkrypant of twee die bykomstighede. Lees hier en kyk na die video.
Veiligheidsbeampte ontslaan ná bakkie oor vrou ry
Die man van ʼn Johannesburgse vrou wat ʼn voorval oorleef het toe ʼn bakkie van ʼn private veiligheidsmaatskappy bo-oor haar gery het, bestempel die feit dat sy lewe as ʼn “wonderwerk wat hy nooit ten volle sal verstaan nie”, maar ook een wat haar snags huilend wakker laat skrik. Lees hier.
Jong dirigent leef passie vir koormusiek uit
Vir Hano van der Walt is koorsang die goue draad wat klank, karakter en gemeenskap met mekaar verweef. Hy het in Januarie vanjaar amptelik by Akademia se kampuskoor as hoofdirigent aangesluit en is ook betrokke by die junior en senior koor van die Laerskool Constantiapark.
Jong stemme kry kans om te skitter in nuusleeskompetisie
Daar is min dinge so aansteeklik soos ʼn kind wat met selfvertroue voor ʼn kamera staan en die wêreld inlig én vermaak. Dit is presies die gees waarin die Jong Nuusleser 2026-kompetisie jong stemme in Suid-Afrika nooi om hul sê te sê.
Die kompetisie, wat saamval met Jeugmaand, is oop vir kinders van 13 jaar en jonger. Deelnemers moet ʼn video van een minuut lank indien waarin hulle ʼn nuusbulletin aanbied. Die inskrywing moet ʼn balans handhaaf tussen ʼn werklike nuusgebeurtenis en ʼn kreatiewe, oorspronklike storie.
Kry al die besonderhede hier.
Luister | Wat skuil agter Martin Steyn se donker verbeelding?
Martin Steyn, een van die gewildste spanningsverhaalskrywers in Suid-Afrika, meen ʼn greep uit sy verbeeldingswêreld kan vir party mense moontlik steurend en donker wees.
“Ek dink die probleem met mense wat misdaadfiksie skryf, is dat jy opgewonde raak oor goed wat eintlik baie sleg en negatief is. Ons sien die storiepotensiaal raak in reeksmoorde, polisieondersoeke en ander gruweldade in die gemeenskap.”
Lees of luister hier na Christa Steyn-Bezuidenhout se onderhoud met die gewilde skrywer.
Stoepkuiers | Kurt Darren doen dit weer met ‘6 7’
Sê wat jy wil van Kurt Darren, maar dié musikant en liedjieskrywer weet hoe om ʼn oorwurmtreffer te skryf.
Sy jongste uitreiking, “6 7”, het die ganse land aan die gons. Selfs nog voordat die liedjie uitgereik is, het sosialemediagebruikers dit soos ʼn veldbrand laat versprei.
Kom kuier saam met Kurt op Maroela Media se stoep.
Wat lees jy?
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.