Selfbeskikking | VF Plus, drukgroep sluit samewerkingsooreenkoms
Die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) en die VF Plus het Donderdag ʼn samewerkingsooreenkoms onderteken.
Die politieke drukgroep en die politieke party sal nou voortaan aktief saamwerk oor sake van gedeelde belang – soos die reg op selfbeskikking.
Die CIAG sê selfbeskikking is ʼn gebiedende norm van internasionale reg wat bindend is op alle state.
Phil Craig, woordvoerder van die CIAG, sĂŞ die Suid-Afrikaanse Grondwet maak voorsiening vir hierdie werklikheid, direk in art. 235, wat die deur ooplaat vir alle vorme van selfbeskikking sowel as indirek in art. 39, 231, 232 en 233.
“Suid-Afrika se voortgesette onderprestasie onder die regering van nasionale eenheid (RNE), ten spyte van die feit dat die ANC nie meer ʼn volstrekte meerderheid het nie, is tekenend van ʼn kritieke waarheid,” meen Craig.
Hy glo egter nié die probleem lê net by die RNE nie, maar die regeringstelsel as geheel.
“Dit is waansin om van ʼn land so groot soos Wes-Europa, met 12 amptelike tale en ʼn bevolking wat bestaan uit vier groot etniese groepe afkomstig van uiters verskillende historiese en kulturele tradisies, te vereis om ʼn enkele nasionale konsensus te bereik waaroor almal saamstem.”
Craig meen die verwesenliking van die reg op selfbeskikking is tans die mees voor die hand liggende oplossing aangesien dit subnasionale gemeenskappe toelaat om self te besluit hoe hulle regeer wil word en watter beleid hulle wil volg.
“Dit is tot voordeel van alle Suid-Afrikaners, en selfbeskikking kan in baie vorme uitgeoefen word, wat wissel van gedesentraliseerde polisiëring en vervoer tot kulturele en taalkundige outonomie, federale regeringstelsels en uiteindelik soewereine onafhanklikheid.”
Maroela Media het vroeër vandeesweek berig dat die Referendum Party besluit het om by die VF Plus aan te sluit.
Corné Mulder, leier van die VF Plus, sê dié party staan deurgaans op vir minderheidsregte, selfbeskikking en ʼn veilige toekoms vir almal wat in Suid-Afrika woon en werk.
Mulder het vroeër vandeesweek gesê talle ander partye het al in die verlede besluit om te ontbind en by die VF Plus aan te sluit, omdat hulle die party gesien het as die beste en mees volhoubare voertuig om hul ideale te bereik.
Mulder meen die VF Plus is ʼn tuiste vir alle kiesers wat ontnugter geraak het met partye wat meer na hul eie belange omsien as na die belange en toekoms van Suid-Afrika en ál sy mense.
“Die party bied oplossings vir almal wat smag na werk, veiligheid en ʼn beter toekoms vir hul kinders.”
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.