general690 wordsRead on Arc Codex

VW kan nĂłg 50 000 poste skrap

Volkswagen se uitvoerende hoof het Maandag aan werknemers gesê dat nóg 50 000 poste moontlik by die sukkelende motorreus geskrap kan word, luidens ’n interne memorandum wat AFP onder oë gehad het. Dit bevestig berigte dat die groep wêreldwyd tot 100 000 poste wil besnoei. Die Duitse motorreus verkeer onder geweldige druk weens Amerikaanse invoertariewe, kleiner winsmarges op elektriese voertuie en veral strawwe mededinging in die belangrike Chinese mark. Chinese motorvervaardigers voer ook toenemend voertuie na Europa uit. Die bestuur van die groep, wat tien handelsmerke besit, het verlede week begin met wat waarskynlik ’n lang en moeilike proses sal wees om oor posbesnoeiings met die toesighoudende raad te onderhandel. Werkers het intussen by aanlegte landwyd betoog. Namate druk op Europa se grootste motorvervaardiger toeneem om sy besparingsplanne in die openbaar uiteen te sit, het Oliver Blume, uitvoerende hoof, in die memorandum aan werknemers gesê die groep moet “nou optree” om sy toekoms te beveilig. “Ons moet meer doeltreffend, weerbaar en eenvoudig word. Ons moet ons koste verminder,” het hy gesê. Volgens Blume is VW se koste sowat 20% hoër as dié van sy mededingers en moet oorhoofse uitgawes tot ’n “mededingende vlak” verminder word. “Aangesien die helfte van ons oorhoofse uitgawes uit personeelkoste bestaan, sou ’n teoretiese berekening, met die aanname dat arbeidskoste onveranderd bly, tot die verlies van sowat 50 000 poste lei,” het hy gesê. Dit is bo en behalwe die 50 000 poste wat die motorvervaardiger reeds in Duitsland besig is om te skrap. Sowat 35 000 daarvan sal ingevolge ’n ooreenkoms wat in 2024 met vakbonde bereik is, by die Volkswagen-handelsmerk self verlore gaan. VW is ook die moedermaatskappy van motorhandelsmerke soos SEAT, Audi en Porsche. Indien die groep 100 000 poste sou skrap, sal dit die grootste herstrukturering in die geskiedenis van die wêreldwye motorbedryf wees. Dit sal selfs die 50 000 posbesnoeiings oortref wat General Motors ingestel het nadat hy in 2009 bankrotskap verklaar het. Blume het ook bevestig dat die toekoms van vier Duitse fabrieke onseker is. “Die waarheid is ook dat ons, soos sake tans staan, nie kan bevestig dat die aanlegte in Emden, Hanover, Zwickau en Neckarsulm tot in die 2030’s mededingend sal kan funksioneer nie,” het hy gesê. Moeilike herstrukturering Enige herstrukturering sal waarskynlik hewig teengestaan word. Arbeidsverteenwoordigers en die Duitse deelstaat Nedersakse, wat albei sterk gekant is teen die sluiting van fabrieke, beklee saam meer as die helfte van die setels in die toesighoudende raad. VW se hoofkantoor in Wolfsburg en verskeie van sy aanlegte is in Nedersakse geleë. Vakbonde het VW en Blume skerp gekritiseer omdat werknemers ontsteld gelaat is terwyl berigte oor grootskaalse posbesnoeiings in die media versprei het, sonder dat die maatskappy daarop kommentaar gelewer het. Hulle het geëis dat die uitvoerende hoof hom in die openbaar oor die kwessie uitspreek. Blume het in die memorandum volgehou dat die uitlek van inligting aan die media nie beplan was nie en gesê die berigte oor dreigende besnoeiings het hom “geïrriteer”. “Die bekendmaking van sulke vertroulike, sensitiewe inligting ontstel nie net ons werknemers nie; dit benadeel ook die onderneming,” het hy gesê. Sommige bedryfsontleders het aan die hand gedoen dat Volkswagen die syfer van 100 000 doelbewus bekend gemaak het as ’n onderhandelingstaktiek en dat die uiteindelike getal posbesnoeiings waarskynlik laer sal wees. Volkswagen is nie die enigste Duitse motorvervaardiger wie se sakebedrywighede die afgelope tyd swaargekry het nie. BMW en Mercedes-Benz se wins het ook gedaal, veral weens toenemende mededinging van plaaslike mededingers in China, die wêreld se grootste motormark. ’n Woordvoerder van IG Metall het Maandag Blume se memorandum as “oppervlakkig” bestempel en gesê werknemers word steeds in die duister gelaat. “Die bestuur se kommunikasie bly oor die hele linie ’n ramp,” het hy gesê. Volgens hom reël werkersverteenwoordigers vergaderings waar Blume na verwagting werknemers se vrae persoonlik sal moet beantwoord. “Die antwoorde sal die deurslaggewende vraag bepaal: of die uitvoerende raad van plan is om die krisis saam met die werknemers of teen hulle te bowe te kom,” het hy gesê. “Indien dit laasgenoemde is, lê ’n behoorlike stryd voor.” Die Chinese neem oor……….sonder om een skoot te skiet. Die VSA se beurt kom.

How it works

Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.

Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.