general611 wordsRead on Arc Codex

Internasionale Strafhof se lidlande besluit oor aanklaer se lot

Die Internasionale Strafhof se 125 lidlande kom Vrydag in New York byeen om die Britse aanklaer Karim Khan se lot te bepaal. Khan is verlede maand geskors, nadat ʼn personeellid bewerings van seksuele aanranding teen hom geopper het. Khan ontken die bewerings ten sterkste. Die 56-jarige Brit het in Mei verlede jaar reeds teruggetree van sy pligte as aanklaer weens die bewerings wat een van sy vroulike kollegas teen hom gemaak het. ʼn Ondersoek na die bewerings is reeds die vorige jaar van stapel gestuur. Khan is eindelik verlede maand deur ʼn sleutelbeheerliggaam van die Internasionale Strafhof, die 21-lid-buro van die Vergadering van Staatspartye (ASP), geskors. Die buro het destyds gesê die skorsing was “nie ʼn aanduiding van die finale uitkoms” in die saak nie, vandaar die buro se besluit om Vrydag se vergadering by die VN se hoofkantoor in New York te belê. Die Internasionale Strafhof se 125 lidlande sal Vrydag tydens ʼn geslote sitting aan ʼn geheime stemming deelneem, waartydens hulle sal moet stem of Khan van sy pligte onthef moet word. ʼn Absolute meerderheid word benodig om Khan van sy pligte te onthef. Die vrou wat die bewerings oor Khan gemaak het, ʼn Maleisiese prokureur wat as Khan se direkte assistent gewerk het, het verlede week in ʼn onderhoud met CNN vir die eerste keer haar weergawe van die gebeure gegee. Die vrou, wat gevra het om slegs aan haar voornaam Sarah geïdentifiseer te word, het ʼn “eskalasie van pogings” beskryf wat eindelik tot fisiese aanranding gelei het. “Daar is geen manier waarop iets met wedersydse instemming kan plaasvind wanneer daar so ʼn groot magswanbalans bestaan nie,” het sy aan CNN gesê. “Wat ek dink baie mense nie verstaan nie, is dat mnr. Khan nie net mý baas was nie, hy was almal se baas.” Khan, wat sedert 2021 in die amp is, ontken die bewerings. Khan se prokureurs het vandeesweek in ʼn ope brief wat op X gepubliseer is, die 125 lidlande versoek om nié vir Khan uit sy posisie te verwyder nie. Die prokureurs voer in die brief aan dat die prosedures wat Khan toelaat om homself te verdedig, nie gerespekteer is nie. Khan se regspan sê die ondersoek, wat nie openbaar gemaak is nie, het geen oortreding bewys nie. Die regspan voer aan dat indien Khan uit sy pos verwyder sou word, “elke toekomstige aanklaer die les sal verstaan”. “Onafhanklikheid dra ʼn prys, en die masjinerie van die hof kan teen sy eie amptenare gedraai word wanneer hul onafhanklikheid ongerieflik raak,” skryf Khan se regspan. Die brief blyk te verwys na ʼn aantal hoëprofieldossiere wat deur Khan hanteer is. Khan het in 2024 opslae gemaak toe hy suksesvol aansoek gedoen het vir lasbriewe vir die inhegtenisneming van die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, en voormalige minister van verdediging, Yoav Gallant, oor die Gaza-oorlog. Die Internasionale Strafhof, wat in Den Haag, Nederland, gesetel is, het ook lasbriewe uitgereik vir die inhegtenisneming van verskeie sleutelleiers van Hamas, wat sedertdien dood is. Amerikaanse sanksies is teen Khan ingestel oor die lasbriewe vir Netanyahu en Gallant. Stephan Rapp, ʼn voormalige Amerikaanse ambassadeur vir oorlogsmisdaadkwessies, meen die proses was dalk nie perfek nie, maar die ondersoek na die bewerings was deeglik. “My eie siening is dat die bewyse meer as voldoende is vir sy verwydering, en ek dink dat hy verwyder moet word vir die Internasionale Strafhof om enige geloofwaardigheid te hê,” het Rapp in aanloop tot Vrydag se stemming aan AFP gesê. “As hulle dit nie doen nie, kan dit die einde van die hof wees,” meen Rapp. “Dit sal sy [die hof] geloofwaardigheid vernietig en homself nog meer kwesbaar maak vir hierdie onregverdige aanvalle van die Verenigde State.”

How it works

Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.

Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.