Fietsryheld Tristan
Die Absa Cape Epic – wat so dikwels deur stof, sweet en sekerlik ook trane gekenmerk word – het in sy jongste weergawe vir ʼn paar groot Suid-Afrikaanse glimlagte gesorg.
Want in Matthew Beers en Tristan Nortjé spog dié moordende bergfietsuitdaging met sy heel eerste plaaslike wenspan in die elite-kategorie.
Beers en Nortjé het in die spandrag van Toyota Specialized Imbuko geskitter om die skofte in ʼn tyd van 26:55:51 te voltooi; 1:04 minute vinniger as Luca Braidot en Simone Avondetto in die tweede plek.
En vir die 24-jarige Nortjé moet dit die grootste prestasie nóg van sy jong en belowende fietsryloopbaan wees.
“Die Epic is die taaiste bergfietsskofwedren in die wêreld. Dit is nie maklik nie. Ek het egter vanjaar ʼn goeie kans gestaan om te wen en ek het dié geleentheid gretig met al twee hande gegryp,” het hy aan Maroela Media gesê.
En dit was inderdaad ʼn uitmergelende gedoente.
Nortjé het onder meer in die pylvak van die wedren hard met moederaarde kennis gemaak en sy regterbeen en -elmboog seergemaak. Maar onderkry is min en, so saam met Beers se aanmoedinging, kon hy ʼn geskiedkundige oorwinning vier.
Volgens die jong inwoner van Wellington, moes jy veral hare op jou tande hê om die sesde skof te voltooi. Hy verduidelik dat dit op die individuele front sy taaiste dag was, maar dat hulle as span toe mooi tyd op die wenhorlosie opgemaak het.
“Ag, dit is die Epic. Jy gaan dus iewers ʼn dag kry waar jy nie lekker voel nie, maar dit is die wyse waarop jy die uitdaging dan hanteer wat die verskil tussen onderkry of uiteindelike sukses is.”
“Dit is ʼn unieke uitdaging met die terrein, die weer en die agt dae van elke dag net opstaan en laat wiel asof daar nie ʼn volgende dag is nie. Dit is eintlik ongelooflik wat ʼn mens se lyf en ingesteldheid kan doen. Die Epic is iets wat elke fietsryer wil wen.”
Beers se laat-die-speke-singvermoë is egter ʼn gereelde Epic-treffer en Nortjé het baie respek vir sy ervare spanmaat.
“Matthew is die sterkste fietsryer wat ek ken. Ons het ʼn goeie verhouding en ons het al vantevore saam gery en groot wedrenne gewen. Om dus weer saam met hom te race was baie spesiaal.”
Nortjé is ʼn oudleerder van Hoërskool Outeniqua in George en hy het omtrent elke liewe sportsoort – van atletiek en tennis, tot rugby en krieket – gedoen, maar fietsry het uiteindelik die meeste van sy tyd begin verg.
“Ek het altyd gesê ek tree uit as ek die Epic wen; juis omdat dit só ʼn groot droom was en ek nie gedink het dit sal sommer gebeur nie. Maar nou is ek deel van die wenspan en dit is nogal ʼn scary gedagte! Ek gaan nou eers die oomblik geniet en ʼn bietjie rus voordat ek my volgende drome jaag.”
Gaan Nortjé en Beers volgende jaar terug wees om hul titel te verdedig?
“Ons sal moet wag en sien wat die span se besluit is!”
- Algehele uitslae:
Mans:
- Matthew Beers en Tristan Nortjé (Toyota Specialized Imbuko): 26:55:51
- Luca Braidot en Simone Avondetto (Wilier-Vittoria): 26:56:56
- Luca Schwarzbauer en Sam Gaze (Canyon): 26:59:25
Vroue:
- Candice Lill en Alessandra Keller (Thomus Maxon Sabi Sabi): 24:32:38
- Hayley Preen en Haley Smith (Chemchamp Honeycomb): 25:25:36
- Katazina Sosna-Pinele en Giorgia Marchet (Torpado FSA Kenda): 25:41:37
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.