DA steek stokkie voor Melgisedek
Die uitsettingsbevel gerig aan inwoners wat ʼn geboue in Pretoria onwettig beset het sal vir eers nie uitgevoer word nie.
Dit volg nadat die DA ook nou amptelik tot die regstryd vir die toekoms van die Melgisedek-inwoners toegetree het.
Maroela Media het vroeër berig oor die Tshwane-metro se uitsettingsbevel van 3 Maart wat die verskuiwing van die plakkers binne sewe dae gelas het. Volgens die metro is die geboue onbewoonbaar verklaar en “uiters onveilig vir menslike bewoning” bevind.
Hierna het die stadsraad voortgegaan om die nagenoeg 450 inwoners na ʼn tydelike nedersetting in Gezina, op die hoek van Nico Smithstraat en Johan Heynsrylaan te verskuif.
Inwoners in dié gebied, wat bekommerd was hoe dit hul besighede en eiendom sal raak, het AfriForum genader om tussenbeide te tree.
Die burgerregteorganisasie het die hof vir ʼn tydelike interdik gevra om die verskuiwing te verhoed, maar dit is geweier omdat die aansoek nie aan die vereistes van ʼn dringende aansoek voldoen het nie.
Amper gelyklopend het die organisasie Regslui vir Menseregte, namens die plakkers, ook ʼn dringende aansoek by die appèlhof ingedien om teen die oorspronklike uitsettingsbevel te appelleer.
In die normale verloop van sake sou dit die uitsettingsbevel opskort, maar die metro het vroeër in die week ʼn reël 18(3)-aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien. Sou dié aansoek toegestaan word, sal dit beteken die metro kan voortgaan met die uitsetting terwyl daar gewag word op die uitkoms van die appèlhof se uitspraak.
In dié aansoek hou die metro vol die gebou bly lewensgevaarlik. Regslui vir Menseregte, wat die aansoek teenstaan, sê die gebou is nog struktureel veilig genoeg en dat die tydelike perseel wat voorgestel word hoegenaamd nie geskik is vir die inwoners nie.
Volgens die inwoners, wat hul eie kenner gekry het, is die daar geen bewyse dat die geboue struktureel “enige oomblik inmekaar sal tuimel nie’.
Die partye sou Donderdag betoë in die hof lewer, maar nadat die DA aansoek gedoen het om as party toe te tree tot die aansoek is die saak uitgestel tot April.
Ander partye wat ook wil toetree sal tot 31 Maart geleentheid gegun word om hul aansoeke by die hof in te dien.
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.