Swaar vonnis vir vier wat glo onderwyser vermoor
Drie mans en ʼn vrou wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn onderwyser van Botshabelo in die Vrystaat van sy selfoon beroof en verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek het, is Donderdag in die hooggeregshof in dié provinsie gevonnis.
Vusimuzi Daniel Nqele (43), Moeketsi Innocent Manko (35), Abdool Rahman Thamando (35) en Halimmah Thamando Mnyobisi (38) is skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade.
Frederick Fezile Mnyobisi (35), ʼn onderwyser aan Refihlile Primary School in Botshabelo, is in September 2023 naby Sechaba Se Maketse Combined School, ook in Botshabelo, van sy Samsung Galaxy A04 beroof voordat hy verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek is.
Mnyobisi se vrou, Halimmah Thamando, het hom na ʼn hospitaal gehaas. Hy is egter kort na sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Brig. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die hospitaal in Botshabelo waarheen hy geneem is, het die polisie ontbied.
Luidens die voorlopige ondersoek het Mnyobisi meer as 30 steekwonde opgedoen.
Die Botshabelo-polisie het ʼn saak van moord en roof ondersoek en ná ʼn multidissiplinêre ondersoek is lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik.
Nqele en Manko is op 8 November 2024 in hegtenis geneem op aanklag van moord en sameswering om moord te pleeg.
“Verdere ondersoeke het gelei tot die inhegtenisneming van Mnyobisi se swaer. Sy vrou het ook later onder verdenking gekom en is aangekeer. Sy het weggekruip in ʼn luukse woonkompleks in Sandton, waar sy saam met haar vermeende kêrel gebly het,” sê Mbambo.
Nqele, Manko en Mnyobisi is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Thamando is ʼn vonnis van 20 jaar tronkstraf opgelê.
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.