science_health408 wordsRead on Arc Codex

Onderwysers kou wiskunde

Uitdagings in wiskunde-onderrig en maniere om leerders te motiveer om wiskunde as vak te neem en te presteer was die fokus van die Kou die Wiskunde-toffie-seminaar. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het onderwysers wat van kleuter- tot hoërskoolleerders onderrig, by Hoërskool Zwartkop in Centurion byeengebring met die doel om onderwysers toe te rus met ʼn vars uitkyk, praktiese oplossings en toepaslike strategieë om wiskunde-onderrig in die klaskamer te versterk. Maniere om meer leerders te motiveer om wiskunde as vak te neem en daarin te presteer was ʼn ander besprekingspunt. Klem is gelê op die belangrike rol wat elke onderwyser, oor elke fase heen, speel in ʼn leerder se uiteindelike sukses in dié vak. Maryke Bellingan, onderwysspesialis en organiseerder van die wiskunde-seminaar by die SOS, sê hulle het gaan kyk na onderwysers se grootste bekommernisse wat onderrig betref. “Ons het gekyk wat ons kan doen om meer leerders te motiveer om wiskunde te neem, hoe hulle onderwysers se visie oor kinders se toekoms kan verbreed en het ook daaroor gesels dat elke onderwyser se rol ʼn invloed op kinders se toekoms in wiskunde het. Die SOS glo elke kind kan wiskunde doen met die nodige ondersteuning en hulp,” sê Bellingan voeg verder by dat wiskunde ’n kernvak op skool bly omdat dit logiese denke, probleemoplossing en selfvertroue ontwikkel – vaardighede wat leerders nie net in ander vakke nie, maar ook in verdere studie en die wêreld van werk nodig het. Wiskunde is die sleutel tot kritiese denke en probleemoplossing, maar navorsing volgens ʼn 2024-studie in die aanlyn vaktydskrif Frontiers in Psychology toon dat baie leerders met wiskunde sukkel weens swak grondslagkennis, wiskunde-angs en beperkte begrip van kernkonsepte. Dr. Hanrie Bezuidenhout, kurrikulumspesialis by die SOS, sê deur op konseptuele leer, toepaslike toepassing en onderwysersopleiding te konsentreer, kan hulle die gaping oorbrug en leerders bemagtig om met selfvertroue te presteer. Marelie Swart, bedryfsielkundige by Opportunity Knocks, het beklemtoon elke kind leer op ʼn unieke manier en almal kán wiskunde doen. Volgens haar is elke leerder op ʼn ander manier slim en onderwysers het die geleentheid om daardie unieke potensiaal raak te sien en te ontwikkel. “Jy het die mag om die verskil te maak tussen ʼn kind wat twyfel en ʼn kind wat begin glo dat hy of sy kan leer,” het sy gesê. Die SOS sal op 10 Oktober weer wiskunde-opleiding verskaf waartydens die fokus leerondersteuning in wiskunde sal wees. Onderwysers en skole wat belangstel, kan die webblad by www.skole.co.za besoek.

How it works

Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.

Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.