Fees van skolerugby in Pretoria
Die vroeë herfsson het Maandag warm op die aksie van die Pretoria Boys High (PBHS)-Paastoernooi geskyn en oudergewoonte het die skolerugbysterre in sy strale baljaar.
Die toernooi is ʼn viering van die skool se 125ste bestaansjaar en die finale dag se wedstryde was omtrént ʼn fees vir skolerugbyfynproewers.
Daar was immers iets van alles – van entoesiastiese ondersteuners en Chino-draende afrigters wat instruksies oor tweerigtingradio’s bulder, tot klipharde lakwerk en skouspelagtige drieë op die speelveld.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het vir sy nederlaag op die eerste dag teen Michaelhouse vergoed toe hy vir Grey High School met 66–19 oorrompel het.
Affies se spoedvrate – Joshua Gouws en Dandré Brink – was op hul gevaarlikste en hulle het saam vyf van hul span se drieë gedruk.
Oudergewoonte was dit egter die voorspelers wat die tafel vir die agterlynblitse gedek het om te baljaar en die Affies-agttal was omtrént op hul stukke.
Die einste Michaelhouse het vir Jeppe High School for Boys weliswaar met 40–36 geklop, maar hy het so byna die deur vir die Johannesburgers in die tweede helfte te groot oopgelos.
Jeppe se spelers het aansienlik beter in die tweede helfte gespeel nadat hulle ʼn rustydagterstand van 26–5 in die gesig gestaar het.
Die span het ʼn rits drieë in die laaste helfte gedruk en dit het ʼn mens onwillekeurig aan ʼn geykte sportuitdrukking laat dink: “Was die wedstryd maar net vyf minute langer, kon daar dalk ʼn ander wenner gewees het.”
Die Johannesburgers moet egter spyt wees dat hulle nie vroeër met die einste dringendheid gespeel het nie.
In die ander wedstryde het Martizburg College en Selborne College hul tweestryde gewen, terwyl die gasheerskool in die laaste kragmeting teen Rondebosch Boys’ High vasgeval het.
Die eindtelling was 43–20 in die Kapenaars se guns.
PBHS stap al ʼn lang pad met van die deelnemende skole. Vyf van die tien spanne – Affies, Jeppe, Parktown, Maritzburg en Michaelhouse – was ook 25 jaar gelede deel van die skool se eeufiesvieringe.
Dit lyk of skolerugbyspelers in Suid-Afrika omtrent jaarliks net meer talentvol, groter en sterker word. Hulle laat die maatband rek en die skaal kreun – volgens die amptelike statistieke staan Rondebosch se Sebastiaan Vermeulen byvoorbeeld 2,06 m in sy sokkies en weeg 140 kg.
Mnr. Gregary Hassenkamp, hoof van PBHS, het dinge egter mooi in sy verwelkoming opgesom.
“Terwyl ons die twee dae van rugby geniet, laat ons onthou dat dit nie ons taak as skole is om professionele sportlui op te lei nie. Dit is ons verantwoordelikheid om ʼn liefde vir die spel en respek vir teenstanders, reëls en beamptes te kweek. Wen is inderdaad belangrik, maar dit is ook nie die belangrikste nie,” het hy gesê.
- Uitslae:
Maandag (dag twee):
Rondebosch Boys High 43–20 Pretoria Boys’ High
Affies 66–19 Grey High School
Michaelhouse 40–36 Jeppe High School for Boys
Maritzburg College 24–7 SACS
Selborne College 26–5 Parktown Boys’ High
Saterdag (dag een):
Pretoria Boys High 35–34 SACS
Maritzburg College 35–12 Jeppe High School for Boys
Michaelhouse 29–27 Affies
Rondebosch Boys’ High 57–17 Selborne College
Grey High School 40–18 Parktown Boys’ High
How it works
Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.
Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.