general484 wordsRead on Arc Codex

Soe

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het misluk in sy poging om ’n R127,1 miljoen-kontrak vir persoonlike beskermende toerusting wat tydens die covid-19-pandemie toegeken is, tersyde te laat stel. Die spesiale tribunaal het Vrydag die SOE se aansoek teen Beadica 423 CC met koste van die hand gewys en die ondersoekeenheid skerp gekritiseer oor gebreke in sy hantering van die saak. Die spesiale tribunaal hanteer siviele sake wat uit SOE-ondersoeke spruit en kan onder meer onregmatige staatskontrakte tersyde stel. Die SOE wou toestemming hê om die geld wat volgens hom weens die kontrak verlore gegaan het, terug te vorder. Regter Chantel Fortuin het egter bevind die SOE het nie bewys dat die kontrak tussen Beadica en die Gautengse departement van gesondheid onwettig was of dat die staat enige finansiële verlies gely het nie. Die getuienis het volgens die uitspraak eerder getoon dat die kontrak die departement sowat R7,39 miljoen bespaar het. Die kontrak is in April 2020, kort nadat die nasionale ramptoestand weens die covid-19-pandemie afgekondig is, aan Beadica toegeken. Die SOE het aangevoer dat die departement se destydse finansiële hoof, Kabelo Lehloenya, nie die bevoegdheid gehad het om die kontrak alleen toe te ken nie en dat die besluit nie aan die Grondwet en geldende verkrygingsvoorskrifte voldoen het nie. Die eenheid het ook beweer die kontrak was ’n skyntransaksie omdat die verbintenisbrief gedateer is voordat Beadica se geskrewe kwotasie ontvang is. Beadica het egter aangevoer dat daar reeds vooraf telefoniese gesprekke en onderhandelings plaasgevind het, dat produkmonsters afgelewer is en dat daar reeds oor pryse en hoeveelhede ooreengekom is voordat die kwotasie op skrif gestel is. Fortuin het bevind die tydsberekening van die dokumente was nie deurslaggewend nie, veral omdat die land destyds met ’n buitengewone noodsituasie te kampe gehad het. Noodverkrygingsmaatreëls het staatsinstellings in dié tyd toegelaat om van gewone mededingende tenderprosesse af te wyk. ’n Groot deel van die SOE se saak het volgens die tribunaal boonop op ontoelaatbare hoorsêgetuienis gesteun. Die SOE-ondersoeker wat die beëdigde verklarings afgelê het, het na onderhoude met verskeie mense en bewerings oor gebrekkige beskermende toerusting verwys. Geen bevestigende verklarings van persone met eerstehandse kennis is egter ingedien nie. Fortuin het dié getuienis gevolglik buite rekening gelaat. Die tribunaal het die SOE ook gekritiseer omdat hy nie die volledige rekord van die besluit om die kontrak toe te ken, bekend gemaak het nie. Die eenheid het aanvanklik beweer dat geen rekord bestaan nie, hoewel die tribunaal bevind het dokumente was reeds in Oktober 2020 in die SOE se besit. Maroela Media het in 2021 berig dat Beadica een van die ondernemings was wie se PPE-kontrakte deur die SOE ondersoek is. Fortuin het bevind die SOE het die staat benadeel deur ’n saak met besonder swak vooruitsigte op sukses voort te sit en dit as ’n vermorsing van staatshulpbronne beskryf. Die aansoek is met ’n streng kostebevel van die hand gewys, wat ook die koste van twee advokate insluit.

How it works

Once you click Generate, Ollama reads this article and crafts 5 comprehension questions. Your answers are graded against the article content — general knowledge won't be enough. Score 70+ to count toward your certificate.

Questions are cached — you'll always get the same 5 for this article.